4. Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Skelfsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.
5. En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.
6. Toe stuur die Here giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe.
7. En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die Here en teen u gespreek het. Bid tot die Here, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.
8. Daarop sê die Here aan Moses: Maak vir jou ’n giftige slang en sit dit op ’n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.
9. Toe het Moses ’n koperslang gemaak en dit op ’n paal gesit: en as ’n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.
10. En die kinders van Israel het weggetrek en laer opgeslaan in Obot.
11. DAARNA het hulle weggetrek van Obot af en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim in die woestyn wat oostelik aan Moab vas lê.
12. Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan by die spruit Sered.
13. Daarvandaan het hulle weggetrek en laer opgeslaan oorkant die Arnon wat in die woestyn is en uit die grondgebied van die Amoriete kom; want die Arnon is die grens van Moab, tussen Moab en die Amoriete.
14. Daarom word gesê in die Boek van die Oorloë van die Here: Waheb in Sufa en die spruite, die Arnon,
15. en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die grondgebied van Moab.
16. En daarvandaan het hulle na Beër getrek. Dit is die put waarvan die Here aan Moses gesê het: Laat die volk bymekaarkom, dat Ek vir hulle water kan gee.
17. Toe het Israel hierdie lied gesing: Spring op, o put! Besing hom!
18. o Put wat die vorste gegrawe het, wat die edeles van die volk gedelf het, met die septer, met hulle stawe! — En uit die woestyn uit na Mattána toe;
19. en van Mattána na Naháliël; en van Naháliël na Bamot;
20. en van Bamot na die dal wat in die veld van Moab lê, by die top van Pisga, en oor die wildernis afkyk.
21. En Israel het boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, en gesê:
22. Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die wingerde nie; ons sal die water van die putte nie drink nie; ons sal die koningsweg hou tot ons deur jou grondgebied getrek het.
23. Maar Sihon het Israel nie toegelaat om deur sy grondgebied te trek nie; maar Sihon het al sy manskappe versamel en uitgetrek na die woestyn, Israel tegemoet; en toe hy by Jahas kom, het hy teen Israel geveg.
24. Maar Israel het hom verslaan met die skerpte van die swaard en sy land in besit geneem van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die kinders van Ammon; want die grens van die kinders van Ammon was sterk.