Númeri 21:23-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. Maar Sihon het Israel nie toegelaat om deur sy grondgebied te trek nie; maar Sihon het al sy manskappe versamel en uitgetrek na die woestyn, Israel tegemoet; en toe hy by Jahas kom, het hy teen Israel geveg.

24. Maar Israel het hom verslaan met die skerpte van die swaard en sy land in besit geneem van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die kinders van Ammon; want die grens van die kinders van Ammon was sterk.

25. So het Israel dan al hierdie stede ingeneem, en Israel het gewoon in al die stede van die Amoriete, in Hesbon en in al sy onderhorige plekke.

26. Want Hesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete; hy het naamlik oorlog gevoer teen die vorige koning van die Moabiete en het dié se hele land tot by die Arnon uit sy hand geruk.

27. Daarom sê die spreukdigters: Kom na Hesbon toe! Laat die stad van Sihon gebou en bevestig word!

28. Want ’n vuur het uitgegaan uit Hesbon, ’n vlam uit die vesting van Sihon; dit het Ar van die Moabiete verteer, die bewoners van die hoogtes van Arnon.

29. Wee jou, Moab! Jy is verlore, volk van Kamos! Hy het sy seuns prysgegee as vlugtelinge, en sy dogters in gevangenskap, aan Sihon, die koning van die Amoriete.

30. Toe het ons hulle beskiet; verlore was Hesbon tot by Dibon; en ons het verwoes tot by Nofag, met vuur tot by Medéba.

31. So het Israel dan gewoon in die land van die Amoriete.

32. Daarna het Moses gestuur om Jaéser te bespied, en hulle het sy onderhorige plekke ingeneem, en hy het die Amoriete wat daar was, uit hulle besitting verdrywe.

33. Toe het hulle gedraai en in die rigting van Basan opgetrek. En Og, die koning van Basan, hy en al sy manskappe het hulle tegemoetgetrek na Edréï om te veg.

34. Daarop sê die Here vir Moses: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek het hom en sy hele volk en sy land in jou hand gegee; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.

35. En hulle het hom verslaan en sy seuns en sy hele volk, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie; en hulle het sy land in besit geneem.

Númeri 21