1. VERDER het die Here met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2. Dit is die wetsinsetting wat die Here beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ’n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie.
3. En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag.
4. En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel.
5. Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand.
6. En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi.
7. Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees.
8. Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees.