3. En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die Here is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die Here?
4. Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
5. en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die Here bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
6. Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
7. en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die Here; dan sal die man wat die Here uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
8. Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
9. Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die Here se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
10. en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou — dat julle nou ook die priesteramp begeer?
11. Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die Here vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
12. En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.