Númeri 14:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het die hele vergadering uitgeroep — hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween.

2. En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het!

3. En waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ’n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie?

4. En hulle sê vir mekaar: Laat ons ’n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.

5. Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel.

6. En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur

7. en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n buitengewoon goeie land.

8. As die Here ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning.

9. Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!

10. Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word. Maar die heerlikheid van die Here het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.

11. Daarop het die Here aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?

12. Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle.

13. Toe het Moses aan die Here gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het

14. en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, Here, in die midde van hierdie volk is; dat U, Here, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in ’n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in ’n vuurkolom by nag.

Númeri 14