Númeri 10:17-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Toe is die tabernakel afgebreek; en die seuns van Gerson en die seuns van Merári, die draers van die tabernakel, het weggetrek.

18. Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elísur, die seun van Sedéür.

19. En oor die afdeling van die stam van Símeon se kinders was Selúmiël, die seun van Surísaddai.

20. En oor die afdeling van die stam van Gad se kinders was Éljasaf, die seun van Réhuel.

21. Daarna het die Kehatiete, die draers van die heiligdom, weggetrek. En die ander het die tabernakel opgerig voordat hulle aangekom het.

22. Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Efraim se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elisáma, die seun van Ammíhud.

23. En oor die afdeling van die stam van Manasse se kinders was Gámliël, die seun van Pedásur.

24. En oor die afdeling van die stam van Benjamin se kinders was Abídan, die seun van Gideóni.

25. Toe het weggetrek die vaandel van die laer van Dan se kinders wat, volgens hulle leërafdelings, die agterhoede vir al die leërs was; en oor sy afdeling was Ahiëser, die seun van Ammísaddai.

26. En oor die afdeling van die stam van Aser se kinders was Págiël, die seun van Ogran.

27. En oor die afdeling van die stam van Náftali se kinders was Ahíra, die seun van Enan.

28. Dit is die optogte van die kinders van Israel volgens hulle leërafdelings. En hulle het weggetrek.

29. En Moses het vir Hobab, die seun van Réhuel, die Midianiet, die swaer van Moses, gesê: Ons trek na die plek waarvan die Here gesê het: Ek sal dit aan julle gee. Trek saam met ons en ons sal aan jou goed doen; want die Here het oor Israel goeie dinge gespreek.

30. Maar hy het vir hom gesê: Ek sal nie saamtrek nie; maar ek sal na my land en my familie gaan.

31. Toe sê hy: Moet ons tog nie verlaat nie, juis daarom dat jy weet hoe ons laer moet opslaan in die woestyn, en jy sal vir ons as oë dien.

32. En as jy met ons saamtrek, sal ons daardie goeie wat die Here aan ons sal doen, ook aan jou doen.

Númeri 10