1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:
2. Maak vir jou twee silwertrompette; van dryfwerk moet jy dit maak; en hulle moet vir jou dien om die vergadering byeen te roep en om die laers te laat opbreek.
3. As hulle dan daarop blaas, moet die hele vergadering by jou byeenkom by die ingang van die tent van samekoms.
4. Maar as hulle op een daarvan blaas, moet by jou byeenkom die owerstes, die stamhoofde van Israel.
5. En as julle alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die oostekant staan.
6. Maar as julle die tweede keer alarm blaas, moet die laers opbreek wat aan die suidekant staan. Alarm moet hulle blaas as hulle moet opbreek.
7. Maar as die vergadering byeen moet kom, moet julle blaas, maar nie alarm maak nie.
8. En die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas; en dié trompette moet vir julle ’n ewige insetting in julle geslagte wees.
9. En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat met julle veg, moet julle met die trompette alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die Here julle God, en julle sal van jul vyande verlos word.
10. Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die Here julle God.
11. IN die tweede jaar, in die tweede maand, op die twintigste van die maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel van die Getuienis af.
12. En die kinders van Israel het van plek tot plek weggetrek uit die woestyn Sinai, en die wolk het gaan rus in die woestyn Paran.
13. So het hulle dan die eerste keer weggetrek volgens die bevel van die Here deur die diens van Moses.
14. En eerste het weggetrek die vaandel van die laer van Juda se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Nagson, die seun van Ammínadab.
15. En oor die afdeling van die stam van Íssaskar se kinders was Netáneël, die seun van Suar.