14. En u heilige sabbat het U aan hulle bekend gemaak, en gebooie en insettinge en ’n wet deur die diens van u kneg Moses hulle beveel.
15. En U het hulle brood gegee uit die hemel vir hulle honger en water vir hulle uit die rots laat uitkom vir hulle dors, en aan hulle gesê om die land in besit te gaan neem waaromtrent U u hand opgehef het om hulle dit te gee.
16. Maar hulle, naamlik ons vaders, het vermetel gehandel en hulle nek verhard en nie na u gebooie geluister nie;
17. ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard en in hul wederstrewigheid ’n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny. Maar U is ’n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie.