Matthéüs 27:49-66 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

49. Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos.

50. Daarop het Jesus weer met ’n groot stem geroep en die gees gegee.

51. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

52. en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.

53. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.

54. En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.

55. En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.

56. Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.

57. EN toe dit aand geword het, het daar ’n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook ’n dissipel van Jesus was.

58. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra. Toe beveel Pilatus dat die liggaam afgegee moes word.

59. En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai

60. en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy ’n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan.

61. En Maria Magdaléna was daar en die ander Maria, en hulle het reg voor die graf gesit.

62. Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam

63. en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op.

64. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.

65. Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal ’n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan.

66. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.

Matthéüs 27