Matthéüs 27:41-57 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

41. En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê:

42. Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.

43. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.

44. En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.

45. En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe;

46. en omtrent die negende uur het Jesus met ’n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47. En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Hy roep Elía.

48. Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem ’n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op ’n riet en laat Hom drink.

49. Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos.

50. Daarop het Jesus weer met ’n groot stem geroep en die gees gegee.

51. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;

52. en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan.

53. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.

54. En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.

55. En daar was baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galiléa af gevolg en Hom gedien het.

56. Onder hulle was daar Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus en Joses, en die moeder van die seuns van Sebedéüs.

57. EN toe dit aand geword het, het daar ’n ryk man van Arimathéa gekom met die naam van Josef, wat self ook ’n dissipel van Jesus was.

Matthéüs 27