Matthéüs 27:38-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

38. Toe word daar saam met Hom twee rowers gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant.

39. En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud

40. en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!

41. En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê:

42. Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo.

43. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.

44. En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig.

45. En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe;

46. en omtrent die negende uur het Jesus met ’n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

47. En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Hy roep Elía.

48. Toe hardloop daar dadelik een van hulle en neem ’n spons en maak dit vol asyn, en sit dit op ’n riet en laat Hom drink.

49. Maar die ander sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom te verlos.

50. Daarop het Jesus weer met ’n groot stem geroep en die gees gegee.

Matthéüs 27