Matthéüs 22:19-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Geveinsdes, waarom versoek julle My? Wys My die belastingmunt. En hulle het vir Hom ’n penning gebring.

20. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit?

21. Hulle antwoord Hom: Die keiser s’n. Daarop sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.

22. En toe hulle dit hoor, was hulle verwonderd en het Hom verlaat en weggegaan.

23. DIESELFDE dag kom daar na Hom Sadduseërs, hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie, en vra Hom

24. en sê: Meester, Moses het gesê: As iemand sonder kinders sterwe, moet sy broer sy vrou trou en kinders vir sy broer verwek.

25. Nou was daar by ons sewe broers, en die eerste het getrou en gesterwe; en omdat hy geen kinders gehad het nie, het hy sy vrou vir sy broer agtergelaat.

26. So ook die tweede en die derde tot die sewende toe.

27. En laaste van almal het die vrou ook gesterwe.

28. In die opstanding dan, van watter een van die sewe sal sy die vrou wees — want hulle almal het haar gehad?

29. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

30. Want in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel.

31. En wat die opstanding van die dode betref — het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:

32. Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes.

Matthéüs 22