33. LUISTER na ’n ander gelykenis: Daar was ’n sekere huisheer wat ’n wingerd geplant het; en hy het ’n heining daarom gesit en ’n parskuip daarin gegrawe en ’n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan.
34. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang.
35. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ’n ander een doodgemaak en ’n ander een gestenig.
36. Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak.
37. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien.
38. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.
39. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.
40. Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen?
41. Hulle antwoord Hom: Die slegte mense — hy sal hulle ’n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.
42. Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?
43. Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.
44. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.