Matthéüs 17:10-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En sy dissipels vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dan dat Elía eers moet kom?

11. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dis waar, Elía kom eers en sal alles herstel;

12. maar Ek sê vir julle dat Elía al gekom het, en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. So sal die Seun van die mens ook deur hulle ly.

13. Toe verstaan die dissipels dat Hy met hulle van Johannes die Doper gespreek het.

14. EN toe hulle by die skare kom, gaan daar ’n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê:

15. Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water.

16. En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie.

17. Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My.

18. Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af.

19. Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?

20. En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

21. Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.

22. En terwyl hulle in Galiléa rondgaan, het Jesus vir hulle gesê: Die Seun van die mens sal oorgelewer word in die hande van die mense;

23. en hulle sal Hom doodmaak, en op die derde dag sal Hy opstaan. En hulle het baie bedroef geword.

24. EN toe hulle in Kapérnaüm kom, het die wat die tempelbelasting ontvang, na Petrus gegaan en gesê: Betaal julle Meester nie die tempelbelasting nie?

25. Hy antwoord: Ja. En toe hy in die huis inkom, was Jesus hom voor en sê: Wat dink jy, Simon? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting — van hulle seuns of van die vreemdelinge?

Matthéüs 17