Matthéüs 12:21-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. En op sy Naam sal die heidene hoop.

22. TOE het hulle ’n duiwelbesetene wat blind en stom was, na Hom gebring; en Hy het hom gesond gemaak, sodat die blinde en stomme kon praat en sien.

23. En die hele menigte was verbaas en het gesê: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?

24. Maar toe die Fariseërs dit hoor, sê hulle: Hy dryf die duiwels nie anders uit as deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, nie.

25. Maar Jesus het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie.

26. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?

27. En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.

28. Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.

29. Of hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie? En dan sal hy sy huis beroof.

30. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

31. Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.

Matthéüs 12