17. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel.
18. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene.
19. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek;
20. want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek.
21. Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.
22. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
23. En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.
24. ’n Leerling is nie bo die meester nie en ’n dienskneg ook nie bo sy heer nie.
25. Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote!
26. Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.
27. Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke.
28. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.
29. Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie.
30. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel.
31. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.
32. Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.