Markus 5:17-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.

18. En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.

19. Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.

20. En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.

21. EN toe Jesus weer in die skuit oorgevaar het na die ander kant, het ’n groot menigte by Hom vergader. En Hy was by die see.

22. En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer

23. en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe.

24. En Hy het saam met hom gegaan. En ’n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring.

25. En ’n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het

26. en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het,

27. het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak;

28. want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.

29. En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was.

30. En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak?

31. En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak?

32. Toe kyk Hy rond om haar te sien wat dit gedoen het.

33. Die vrou, wat gevrees en gebeef het omdat sy wis wat met haar gebeur het, kom toe en val voor Hom neer en vertel Hom die hele waarheid.

34. En Hy sê vir haar: Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees van jou kwaal genees.

Markus 5