26. En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.
27. Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant.
28. En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.
29. En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,
30. verlos Uself en kom af van die kruis!
31. En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.
32. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
33. En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.