22. En hulle het Hom gebring op die plek Gólgota, dit is, as dit vertaal word: Plek van die Hoofskedel.
23. Toe gee hulle Hom wyn met mirre gemeng om te drink, maar Hy het dit nie geneem nie.
24. En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry.
25. En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.
26. En die opskrif van sy beskuldiging was bokant Hom geskrywe: DIE KONING VAN DIE JODE.
27. Hulle het ook twee rowers saam met Hom gekruisig, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant.
28. En die Skrif is vervul wat sê: En Hy is by die misdadigers gereken.
29. En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: Ha, U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou,
30. verlos Uself en kom af van die kruis!
31. En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot en vir mekaar gesê: Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.
32. Laat die Christus, die Koning van Israel, nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo! Ook die wat saam met Hom gekruisig is, het Hom beledig.
33. En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe.
34. En die negende uur het Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?
35. En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía.