Markus 12:11-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë.

12. En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan.

13. TOE stuur hulle na Hom sommige van die Fariseërs en van die Herodiane om Hom op ’n woord te betrap.

14. En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?

15. Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My ’n penning, dat Ek dit kan sien.

16. En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s’n.

17. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.

18. TOE kom daar Sadduseërs na Hom, die wat sê dat daar geen opstanding is nie, en hulle vra Hom en sê:

19. Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se broer sterwe en ’n vrou agterlaat en geen kinders nalaat nie, moet sy broer sy vrou neem en kinders vir sy broer verwek.

20. Nou was daar sewe broers, en die eerste het ’n vrou geneem en gesterwe sonder om kinders na te laat.

21. En die tweede het haar geneem en gesterwe, en hy het ook geen kinders nagelaat nie; en die derde net so.

22. En al sewe het haar geneem en geen kinders nagelaat nie. Laaste van almal het die vrou ook gesterwe.

23. In die opstanding dan, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? — want al sewe het haar as vrou gehad.

24. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?

Markus 12