1. EN die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby.
2. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon ombring, want hulle het die volk gevrees.
3. En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die getal van die twaalf was.
4. Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom aan hulle kon oorlewer.
5. En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee.
6. En hy het toegestem en na ’n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan hulle oor te lewer.
7. EN die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word.
8. Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.
9. En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei?
10. En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal ’n man julle ontmoet wat ’n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan.
11. En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u — waar is die kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet?