Lukas 20:3-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra — sê vir My:

4. die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?

5. Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?

6. En as ons sê: Uit mense — sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes ’n profeet is.

7. Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie.

8. En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.

9. TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: ’n Sekere man het ’n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir ’n geruime tyd op reis gegaan.

10. En op die regte tyd het hy ’n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur.

11. En hy het weer ’n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur.

12. En hy het weer ’n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf.

13. Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien.

14. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s’n kan wees.

15. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen?

16. Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie!

17. Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n hoeksteen geword?

18. Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.

19. TOE probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.

20. En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat hulle regverdig was, sodat hulle Hom op ’n woord kon betrap, om Hom oor te lewer aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.

Lukas 20