Lukas 17:11-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. EN op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samaría en Galiléa gegaan.

12. En toe Hy in ’n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat op ’n afstand bly staan het.

13. En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig!

14. En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters. En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword.

15. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ’n groot stem verheerlik.

16. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ’n Samaritaan.

17. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?

18. Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?

19. En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.

20. EN toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie.

21. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.

Lukas 17