Lukas 15:22-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ’n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.

23. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.

24. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.

25. En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange.

26. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken.

27. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.

28. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.

29. Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ’n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie.

30. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.

31. Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.

32. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.

Lukas 15