Lukas 12:7-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

8. En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.

9. Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van God.

10. En elkeen wat ’n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie vergewe word nie.

11. En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie;

12. want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.

13. EN een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.

14. Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ’n regter of deler oor julle aangestel?

15. En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.

16. Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ’n Ryk man se grond het goed gedra.

17. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie?

18. Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.

19. En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.

Lukas 12