14. EN Hy het ’n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan, het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder.
15. Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf Hy die duiwels uit.
16. En ander het Hom versoek en van Hom ’n teken uit die hemel begeer.
17. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en ’n huis wat teen homself is, val.
18. En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan? Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf.
19. En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
20. Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom.
21. Wanneer ’n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings in veiligheid.
22. Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.
23. Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
24. Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.
25. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.
26. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.