Levítikus 8:24-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Moses het ook die seuns van Aäron laat nader kom en van die bloed aan hulle regteroorlel en aan die duim van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet gestryk; daarna het Moses die orige bloed rondom teen die altaar uitgegooi.

25. En hy het die vet geneem met die vetstert en al die vet wat aan die binnegoed was, en die lap aan die lewer en die twee niere en hulle vet en die regterboud.

26. Ook het hy uit die mandjie met ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die Here was, een ongesuurde koek geneem en een oliebrood koek en een platkoek; en hy het dit op die stukke vet en op die regterboud neergesit

27. en dit alles op die hande van Aäron en die hande van sy seuns gelê; en hy het dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg.

28. Daarop het Moses dit uit hulle hande geneem en dit op die altaar, bo op die brandoffer, aan die brand gesteek; ’n wydingsoffer was dit as lieflike geur, ’n vuuroffer aan die Here.

29. Verder het Moses die bors geneem en dit as beweegoffer voor die aangesig van die Here beweeg; van die wydingsram het dit aan Moses as deel toegekom, soos die Here Moses beveel het.

Levítikus 8