33. En as iemand van die Leviete dit sal los, moet die huis wat verkoop is, naamlik in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word; want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die kinders van Israel.
34. En die weiveld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is ’n ewige besitting vir hulle.
35. En as jou broer by jou verarm en agterraak, moet jy hom ondersteun, soos ’n vreemdeling en bywoner, dat hy by jou kan lewe.
36. Jy moenie rente of wins van hom neem nie, maar jy moet jou God vrees, dat jou broer by jou kan lewe.
37. Jou geld mag jy hom nie op rente gee nie, en jou eetware mag jy nie teen wins gee nie.
38. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees.
39. En as jou broer by jou verarm en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie as slaaf laat dien nie.
40. Soos ’n dagloner, soos ’n bywoner moet hy by jou wees; tot die jubeljaar toe moet hy by jou dien;
41. dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom; en hy moet na sy geslag terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan.
42. Want hulle is my knegte wat Ek uit Egipteland uitgelei het; hulle mag nie verkoop word soos ’n mens ’n slaaf verkoop nie.
43. Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God vrees.
44. Wat jou slaaf of jou slavin aangaan wat aan jou sal behoort — van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle ’n slaaf of slavin koop.