Levítikus 24:10-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. EN die seun van ’n Israelitiese vrou — maar hy was die seun van ’n Egiptiese man — het uitgegaan tussen die kinders van Israel in; en die seun van die Israelitiese vrou en ’n Israelitiese man het met mekaar geveg in die laer.

11. Toe het die seun van die Israelitiese vrou die Naam gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van sy moeder was Selómit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.

12. En hulle het hom in die gevangenis gesit, dat hulle ’n beslissing kon verkry volgens die uitspraak van die Here.

13. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

14. Bring die vloeker buitekant die laer uit, en almal wat dit gehoor het, moet hulle hande op sy hoof lê; dan moet die hele vergadering hom stenig.

15. En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sy God vloek, sal hy sy sonde dra.

16. En wie die Naam van die Here laster, moet sekerlik gedood word; die hele vergadering moet hom sekerlik stenig. Die vreemdeling net soos die kind van die land — as hy die Naam laster, moet hy gedood word.

17. En as iemand enige mens doodslaan, moet hy sekerlik gedood word.

18. Maar hy wat ’n stuk vee doodslaan, moet daar vergoeding voor gee; lewe vir lewe.

19. En as iemand aan sy naaste ’n liggaamsgebrek toebring — soos hy gedoen het, net so moet ook aan hom gedoen word:

20. breuk vir breuk, oog vir oog, tand vir tand — dieselfde liggaamsgebrek wat hy aan ’n mens toebring, moet ook aan hom toegebring word.

Levítikus 24