Levítikus 19:24-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ’n heilige feesgawe aan die Here wees;

25. en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet — dit alles om hulle opbrings vir julle meer te maak. Ek is die Here julle God.

26. Julle mag niks met bloed en al eet nie. Julle mag nie met verklaring van voortekens of goëlery omgaan nie.

27. Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die rand van jou baard nie skend nie.

28. Julle mag ook ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here.

29. Ontheilig jou dogter nie deur haar vir hoerery aan te hou nie, sodat die land nie hoereer en die land vol skandelike dade word nie.

30. Julle moet my sabbatte hou en my heiligdom ontsien. Ek is die Here.

31. Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die Here julle God.

32. Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer; en jy moet jou God vrees. Ek is die Here.

33. En as ’n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie.

34. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die Here julle God.

35. Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie.

36. Julle moet ’n regte weegskaal hê, regte weegstene, ’n regte efa en ’n regte hin. Ek is die Here julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.

37. Daarom moet julle al my insettinge en al my verordeninge onderhou en dit doen. Ek is die Here.

Levítikus 19