Levítikus 19:15-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.

16. Jy mag nie as ’n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die Here.

17. Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.

18. Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.

19. Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ’n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.

20. En as ’n man vleeslike gemeenskap het met ’n vrou wat ’n slavin is, vir ’n ander man bestemd, sonder dat sy ooit losgekoop of vryheid aan haar gegee is, dan moet daar bestraffing plaasvind. Hulle mag nie gedood word nie, want sy was nie vrygelaat nie.

21. En hy moet sy skuldoffer aan die Here bring by die ingang van die tent van samekoms — ’n ram as skuldoffer;

22. en die priester moet met die skuldofferram vir hom versoening doen voor die aangesig van die Here weens die sonde wat hy gedoen het; en hy sal vergifnis ontvang vir sy sonde wat hy gedoen het.

23. En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie.

Levítikus 19