Levítikus 13:22-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

22. En as dit werklik in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag van melaatsheid.

23. Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie versprei het nie, is dit die litteken van die sweer, en die priester moet hom rein verklaar.

24. Of as in die vlees, in sy vel ’n brandplek van vuur is en die nuwe vlees van die brandplek ’n rooierige wit of wit vlek is;

25. en die priester dit bekyk en sien dat die hare op die ligte vlek wit geword het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid; in die brandplek het dit uitgebreek. Daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid.

26. Maar as die priester dit bekyk en sien dat op die ligte vlek geen wit hare is nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank opsluit.

27. Dan moet die priester op die sewende dag hom bekyk. As dit werklik in die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid.

28. Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie in die vel versprei het nie en dof van kleur geword het, dan is dit die swelsel van die brandplek. Daarom moet die priester hom rein verklaar, want dit is die litteken van die brandplek.

29. Verder, as daar by ’n man of vrou ’n aangetaste plek aan die hoof of in die baard is,

30. en die priester die plek bekyk en sien dat dit dieper lyk as die vel, en daar geel dun hare op is, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is skurfte, dit is melaatsheid van die hoof of van die baard.

31. Maar as die priester die plaag van skurfte bekyk en sien dat dit nie dieper as die vel lyk nie, en daar geen swart hare op is nie, dan moet die priester die deur skurfte aangetaste persoon sewe dae lank opsluit.

32. Bekyk die priester dan op die sewende dag die aangetaste plek en sien hy dat die skurfte nie versprei het nie, en daar geen geel hare op is nie, en die skurfte nie dieper lyk as die vel nie,

33. dan moet die persoon hom skeer, maar die skurwe plek moet hy nie skeer nie, en die priester moet die skurwe persoon nog ’n keer sewe dae lank opsluit.

34. Bekyk die priester dan die skurfte op die sewende dag en sien hy dat die skurfte nie in die vel versprei het nie en dit nie dieper as die vel lyk nie, dan moet die priester hom rein verklaar. En hy moet sy klere was en sal rein wees.

35. Maar as die skurfte werklik in die vel versprei nadat hy rein verklaar is,

36. en die priester dit bekyk en sien dat die skurfte in die vel versprei het, dan hoef die priester nie na die geel hare te soek nie; hy is onrein.

37. Maar as die skurfte, volgens hy kan sien, dieselfde gebly en swart hare daarop gegroei het, dan is die skurfte gesond. Hy is rein, en die priester moet hom rein verklaar.

38. Verder, as ’n man of vrou in die vel van hulle vlees ligte vlekke, wit vlekke het,

39. en die priester sien dat daar dowwe wit vlekke in die vel van hulle vlees is, dan is dit gewone uitslag wat in die vel uitgebreek het; hy is rein.

Levítikus 13