Levítikus 13:15-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. en as die priester die wilde vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die wilde vlees is onrein, dit is melaatsheid.

16. Maar as die wilde vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester kom.

17. As die priester hom dan bekyk en sien dat die aangetaste plek wit geword het, dan moet die priester die aangetaste persoon rein verklaar; hy is rein.

18. Maar as daar in die vlees aan hom, naamlik in die vel, ’n sweer is en gesond word,

19. maar in die plek van die sweer ’n wit swelsel of ’n rooierige wit vlek kom, moet hy hom aan die priester vertoon.

20. As die priester sien dat dit dieper lyk as die vel, en die hare daarvan wit geword het, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag van melaatsheid, dit het in die sweer uitgebreek.

21. Maar as die priester dit bekyk, en daar geen wit hare op is nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank opsluit.

22. En as dit werklik in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag van melaatsheid.

23. Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie versprei het nie, is dit die litteken van die sweer, en die priester moet hom rein verklaar.

24. Of as in die vlees, in sy vel ’n brandplek van vuur is en die nuwe vlees van die brandplek ’n rooierige wit of wit vlek is;

25. en die priester dit bekyk en sien dat die hare op die ligte vlek wit geword het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid; in die brandplek het dit uitgebreek. Daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid.

26. Maar as die priester dit bekyk en sien dat op die ligte vlek geen wit hare is nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank opsluit.

27. Dan moet die priester op die sewende dag hom bekyk. As dit werklik in die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid.

Levítikus 13