3. Gimel. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het sy regterhand teruggetrek voor die vyand, en in Jakob het Hy gebrand soos ’n vuurvlam wat rondom verteer.
4. Dalet. Hy het sy boog gespan soos ’n vyand, Hom opgestel met sy regterhand soos ’n teëstander en gedood alles wat ’n lus was vir die oog in die tent van die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur.
5. He. Die Here het soos ’n vyand geword, Hy het Israel verslind, al sy paleise verslind, sy vestings verwoes en geklaag en geklag by die dogter van Juda vermenigvuldig.
6. Wau. En Hy het sy eie omheining soos ’n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes; die Here het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn koning en priester verwerp.