3. Toe het Josua hom gereedgemaak met al die weerbare manskappe om op te trek na Ai, en Josua het dertigduisend man, dapper helde, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur
4. en aan hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle moet teen die stad ’n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad; moenie te ver van die stad af weggaan nie, en hou julle almal gereed;
5. en ek met al die manskappe wat by my is, ons sal na die stad toe aankom; as hulle dan ’n uitval maak om ons te ontmoet, soos die vorige keer, sal ons voor hulle uit vlug;
6. en hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad afgesny het — want hulle sal dink: Hulle vlug voor ons uit soos die vorige keer — en ons sal voor hulle uit vlug.
7. Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem; want die Here julle God sal dit in julle hand gee.
8. En as julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek, na die woord van die Here moet julle handel; kyk, ek gee julle bevel.
9. So het Josua hulle dan uitgestuur, en hulle het getrek na die hinderlaag en gebly tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai; maar Josua het dié nag onder die manskappe deurgebring.
10. Die môre vroeg het Josua hom klaargemaak en die manskappe gemonster en opgetrek met die oudstes van Israel, op die voorpunt van die manskappe, na Ai toe.
11. En al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek en nader gegaan en teenoor die stad gekom, en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van Ai, sodat die dal tussen hulle en Ai was.
12. So het hy dan omtrent vyfduisend man geneem en hulle in ’n hinderlaag opgestel tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad.