13. En hulle het die manskappe opgestel, die hele leër wat noordelik van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad, maar Josua het dieselfde nag die laagte ingetrek.
14. En toe die koning van Ai dit merk, het die manne van die stad hulle in die vroegte gou klaargemaak en uitgetrek om Israel in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op ’n afgesproke plek voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar vir hom agter die stad ’n hinderlaag lê nie.
15. En Josua en die hele Israel het hul laat verslaan voor hulle en gevlug in die rigting van die woestyn.
16. Al die manskappe in die stad is toe opgeroep om hulle agterna te jaag; en terwyl hulle Josua agtervolg, is hulle van die stad afgesny,
17. sodat niemand in Ai en Bet-el oorgebly het wat nie agter Israel aan uitgetrek het nie; en hulle het die stad oop laat staan en Israel agternagejaag.
18. En die Here het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit.
19. En die hinderlaag het gou van sy plek af opgestaan en gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het, en hulle het in die stad ingekom en dit ingeneem en die stad gou aan die brand gesteek.
20. Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers.
21. Toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad inneem en dat die rook van die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval.
22. Daarop trek dié uit die stad hulle tegemoet, sodat hulle tussen Israel in geraak het, ’n deel duskant en ’n deel anderkant; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat vrygeraak of ontvlug het nie.
23. Maar hulle het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua gebring.
24. En nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn waar hulle hul agtervolg het, geheel en al van kant gemaak het, en hulle almal tot die laaste een toe deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekom na Ai en dit met die skerpte van die swaard verslaan.
25. Al die gesneuweldes op dié dag, manne sowel as vroue, was twaalf duisend — al die mense van Ai.