6. So het Josua hulle dan geseën en hulle laat gaan; en hulle het getrek na hul tente toe.
7. Maar aan die een helfte van die stam van Manasse het Moses in Basan ’n erfdeel gegee, en aan die ander helfte daarvan het Josua ’n deel gegee saam met hulle broers, duskant die Jordaan in die weste. En toe Josua hulle laat gaan het na hul tente, het hy hulle ook geseën
8. en met hulle gespreek en gesê: Gaan terug na julle tente met groot rykdomme en ’n menigte van vee, met silwer en goud en koper en yster en baie klere; deel die buit van julle vyande saam met julle broers.
9. So het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse dan teruggegaan, en hulle het weggetrek van die kinders van Israel af, uit Silo wat in die land Kanaän lê, om te gaan na die land Gílead, na die land van hulle besitting waarin hulle, op bevel van die Here deur die diens van Moses, vaste besittings verkry het.
10. Toe hulle kom by die klipkrale van die Jordaan, wat in die land Kanaän lê, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse daar ’n altaar gebou by die Jordaan, ’n altaar groot van aansien.
11. Maar toe die kinders van Israel hoor sê: Kyk, die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het die altaar gebou teenoor die land Kanaän, by die klipkrale van die Jordaan, aan die kant van die kinders van Israel —
12. toe die kinders van Israel dit hoor, het die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaargekom in Silo om op kommando teen hulle op te trek.
13. En die kinders van Israel het Pínehas, die seun van Eleásar, die priester, na die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse, na die land Gílead gestuur,
14. en tien owerstes saam met hom, vir elke familie van al die stamme van Israel een owerste; en hulle was elkeen ’n familiehoof van die stamme van Israel.
15. Toe hulle by die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse in die land Gílead kom, het hulle met hulle gespreek en gesê:
16. So sê die hele vergadering van die Here: Wat is dit vir ’n troubreuk wat julle begaan teen die God van Israel, dat julle vandag van die Here afvallig word deur vir julle ’n altaar te bou, deur vandag teen die Here in opstand te kom?
17. Is die ongeregtigheid in verband met Peor vir ons nog nie genoeg nie, waarvan ons tot vandag toe ons nie gereinig het nie — toe die plaag oor die vergadering van die Here gekom het?