1. DAAROP het Josua, die seun van Nun, uit Sittim in die geheim twee manne as verkenners uitgestuur en gesê: Gaan bekyk die land en Jérigo. Hulle het toe gegaan en in die huis van ’n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het daar gaan slaap.
2. En toe daar aan die koning van Jérigo gesê is: Kyk, manne uit die kinders van Israel het vannag hierheen gekom om die land te verken,
3. stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken.
4. Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle weggesteek; en sy het gesê: Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie.
5. En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle sal hulle inhaal.