29. Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.
30. Hy moet meer word, maar ek minder.
31. Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.
32. En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie.
33. Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.
34. Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.