Johannes 3:19-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

20. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.

21. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.

22. HIERNA het Jesus en sy dissipels na die land van Judéa gegaan, en Hy het daar met hulle vertoef en gedoop.

23. En Johannes was ook besig om te doop in Enon naby Salim, omdat daar baie water was. En die mense het daar gekom en is gedoop.

24. Want Johannes was nog nie in die gevangenis gewerp nie.

25. Daar het toe van die kant van die dissipels van Johannes ’n redenasie met die Jode ontstaan oor die reiniging.

26. En hulle het na Johannes gekom en vir hom gesê: Rabbi, Hy wat saam met u oorkant die Jordaan was, van wie u getuig het, kyk, Hy doop, en almal gaan na Hom toe.

27. Johannes antwoord en sê: ’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.

28. Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is.

29. Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.

30. Hy moet meer word, maar ek minder.

31. Hy wat van bo kom, is bo almal; hy wat uit die aarde is, is uit die aarde en praat uit die aarde. Hy wat uit die hemel kom, is bo almal.

32. En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie.

33. Wie sy getuienis aangeneem het, het sy seël daarop gesit dat God waaragtig is.

34. Want Hy wat God gestuur het, spreek die woorde van God; want God gee Hom die Gees nie met mate nie.

35. Die Vader het die Seun lief en het alles in sy hand gegee.

Johannes 3