33. Toe Jesus haar dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel
34. en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk.
35. Jesus het geween.
36. Die Jode sê toe: Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!
37. En sommige van hulle sê: Kon Hy wat die oë van die blinde man geopen het, nie maak dat hierdie man ook nie gesterf het nie?
38. En Jesus het weer in Homself geweldig bewoë geword en by die graf gekom. En dit was ’n spelonk, en ’n steen het daarteen gelê.
39. Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.
40. Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie?