Job 9:17-33 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Hy wat my deur ’n stormwind sou vernietig en my wonde sonder oorsaak sou vermeerder;

18. my nie sou toelaat om asem te skep nie, maar my sou versadig met bitterhede.

19. Kom dit aan op die krag van die sterkste — hier is Ek! En kom dit op reg aan — wie kan My dagvaar?

20. Al was ek regverdig, my eie mond sou my veroordeel; al was ek onskuldig, Hy sou my as ’n verkeerde reken.

21. Vroom is ek! Ek gee niks om myself nie: ek verfoei my lewe!

22. DIT is net eenders — daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy.

23. As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.

24. Die aarde is aan die mag van die goddelose oorgelewer, die gesig van die regters bind Hy toe. Is dit nie Hy nie, wie dan anders?

25. Ja, my dae was gouer as ’n hardloper; hulle het weggevlug sonder om voorspoed te sien.

26. Hulle het verbygegly soos skepe van biesies, soos ’n arend wat neerskiet op sy prooi.

27. As ek sê: Ek wil my geklaag vergeet, my droewige gesig laat vaar en vrolik word,

28. dan is ek al bang vir al my smarte: ek weet dat U my nie sal vryspreek nie.

29. Ek sal tog skuldig wees — waarom sal ek my dan tevergeefs afmat?

30. Al was ek my met sneeu en reinig ek my hande met loog,

31. dan sou U my in ’n poel indompel, sodat my klere van my ’n afsku kry.

32. Want Hy is nie ’n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie.

33. Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie.

Job 9