13. My pad verniel hulle, hulle help om my te laat val sonder dat hulle self ’n helper het.
14. Soos deur ’n wye bres kom hulle; te midde van die puinhope kom hulle aanrol.
15. Verskrikkinge is teen my gerig; hulle vervolg my hoogheid soos die wind, en soos ’n wolk het my geluk verbygegaan.
16. Daarom stort my siel hom nou uit in my; dae van ellende hou my vas.
17. Die nag deurboor my gebeente, en dit val van my af; en my knaende pyne rus nooit nie.
18. Deur goddelike oormag is my kleed ontredder; soos die kraag van my lyfrok omspan dit my.
19. Hy het my in die modder gewerp, en ek het soos stof en as geword.
20. Ek roep U aan om hulp, maar U antwoord my nie; ek staan daar, en U staar my aan.
21. U is jeens my verander in ’n onbarmhartige; deur die sterkte van u hand behandel U my as vyand.
22. U hef my op die wind, laat my daarop ry; en U laat my vergaan in stormgedruis.
23. Want ek weet: U wil my na die dood toe bring en na die huis waar al wat lewe, saamkom.
24. Maar sal iemand by die ineenstorting nie nog die hand uitsteek of by sy ondergang om dié rede om hulp roep nie?
25. Of het ek nie geween oor hom wat harde dae het nie? Was my siel nie bekommerd oor die behoeftige nie?
26. Want ek het op die goeie gehoop, en onheil het gekom; en ek het gewag op lig, en donkerheid het gekom.
27. My ingewande kook sonder ophou; dae van ellende het my teëgekom.