Job 20:9-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie.

10. Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee.

11. Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof.

12. AL smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong,

13. al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte —

14. tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste.

15. Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg.

16. Die gif van adders suig hy in, die tong van ’n slang maak hom dood.

17. Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie.

18. Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie.

19. Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; ’n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie.

20. Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie.

21. Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie.

22. By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom.

23. OM sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel.

24. Hy sal vlug vir die ysterwapens — ’n koperboog sal hom deurboor.

25. Hy trek — daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom!

26. Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; ’n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly.

27. Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op.

Job 20