1. MAAR Job het geantwoord en gesê:
2. Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!
3. Ook ek het verstand soos julle; ek staan nie vir julle terug nie; en wie weet sulke dinge nie?
4. Ek moet ’n belagging wees vir my vriend, ek wat God aangeroep en verhoring gevind het — ’n belagging is die regverdige, die opregte!
5. Vir die ongeluk is daar veragting volgens die gedagte van hom wat lekker lewe; dit staan klaar vir hulle wie se voet wankel.
6. Rustig staan die tente van die verwoesters, en sekerheid is die deel van hulle wat God vertoorn, van hom wat sy god in sy hand dra.
7. MAAR vra tog vir die diere, dat hulle jou leer; en die voëls van die hemel, dat hulle jou te kenne gee;
8. of spreek die aarde aan, dat dit jou leer, en laat die visse van die see jou vertel.
9. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie?
10. In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
11. Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
12. By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.