13. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.
14. En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die Here bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.
15. Want kyk, die Here sal kom in vuur, en sy waens soos ’n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.
16. Want met vuur en met sy swaard sal die Here strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die Here verslaan is, sal baie wees.
17. Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise — almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die Here.
18. Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.
19. En Ek sal ’n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.