18. En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!
19. Want ’n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.
20. Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien;
21. en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.
22. En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.
23. Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ’n uitgestrekte weiveld;
24. en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat uitgewan is met skop en gaffel;
25. en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val.
26. En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.
27. KYK, die Naam van die Here kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos ’n verterende vuur,
28. en sy asem soos ’n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met ’n sif van vernietiging; en ’n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke.
29. Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die Here, na die Steenrots van Israel.
30. En die Here sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ’n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.
31. Want vir die stem van die Here sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan,
32. en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die Here op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met ’n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg.
33. Want ’n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei; diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte; die asem van die Here is soos ’n stroom van swawel wat dit aan die brand steek.