6. En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot.
7. Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort;
8. en die beskutting van Juda word weggeneem. En in dié dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos,
9. en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op.
10. En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk.
11. En julle maak ’n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.
12. En in dié dag roep die Here, die Here van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed;
13. maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons.
14. Maar die Here van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die Here van die leërskare.
15. SO sê die Here, die Here van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê:
16. Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier ’n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom ’n woning uithol?
17. Kyk, die Here sal jou wegslinger, soos ’n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol,
18. jou vas inmekaar draai soos ’n tol garing, jou soos ’n bal wegslinger na ’n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer!
19. En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.