6. Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel.
7. En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie.
8. Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het.
9. So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie.
10. Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.
11. Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die Here alleen sal in dié dag verhewe wees.
12. Want ’n dag is daar vir die Here van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;
13. en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan;
14. en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;
15. en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;
16. en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.
17. Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die Here alleen sal in dié dag verhewe wees.
18. En die afgode sal geheel en al verdwyn.
19. En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
20. In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise;
21. om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.
22. Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!