Jesaja 10:9-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie?

10. Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría,

11. sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?

12. Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.

13. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos ’n maghebber neergewerp.

14. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na ’n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos ’n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat ’n vlerk verroer of ’n bek oopgemaak of gepiep het nie.

15. Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ’n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ’n stok hóm ophef wat nie hout is nie!

16. Daarom sal die Here Here van die leërskare onder sy vettes ’n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy ’n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.

17. En die Lig van Israel sal ’n vuur wees, en sy Heilige ’n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.

18. Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer ’n kranke wegkwyn.

19. En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en ’n seuntjie sal hulle kan opskrywe.

20. En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die Here, die Heilige van Israel, in opregtheid.

Jesaja 10